On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: #SONA2020 lok reaksie

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 16:01 Fri, 14 Feb 2020

Landbounuus-podcast: #SONA2020 lok reaksie | News Article

Suid-Afrika boer op vele gebiede agteruit.


Dit is duidelik sigbaar met pres. Cyril Ramaphosa se 2019 staatsrede wat voorheen groot beloftes vir die land en al sy mense ingehou het, maar dié beloftes is nie sedertdien deur die regering gestand gedoen nie. Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê dit is nou tyd om oor te gaan na aksie en Suid-Afrika sal nog 'n paar “Wêreldbekers” moet verower om die land se verswakkende ekonomiese groei en gebrekkige dienslewering te verander. Van Zyl sê in reaksie op Ramaphosa se mees onlangse staatsrede Donderdagaand dat onteiening sonder vergoeding die ondergang van die land se ekonomie en voedselsekerheidstatus beteken. Daar moet eerder gefokus word om saam met Agri SA te werk om volhoubare landbouontwikkeling te bewerkstellig. Volgens hom moet droogteramphulp en landelike veiligheid nasionale prioriteite wees, terwyl die private sektor se vaardighede om risiko's soos bek-en-klouseer te mitigeer gebruik moet word. Staatsbeheerde maatskappye soos Eskom moet geprivatiseer word.

Daarmee saam sê AfriFourm se hoof van beleid en aksie pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede Donderdagaand kon ernstig opgeneem word as hy konkrete planne ter tafel gelê het om onder meer ekonomiese groei, wat tans 1% is, aan te wakker. Hy sê Ramaphosa se staatsrede is egter soos om gif vir ’n siek pasiënt te gee en te sê dat dit genesend is. Volgens Roets het Ramaphosa veral klem gelê op die ANC se verbintenis tot oneiening van eiendom sonder vergoeding wat steeds vir dié organisasie 'n raaisel is waarom die regering aan 'n universiële mislukte beleid vasklou. Hy sê AfriFourm gaan voort om op 'n volgehoue grondslag sosialistiese beleidstellings soos onteiening sonder vergoeding plaaslik en op internasionale gebied te beveg.

DA-LP, en woordvoerder oor landbou, Annette Steyn, meen Ramaphosa se staatsrede was teleurstellend en daar was in die verlede talle beloftes gemaak met betrekking tot landbou wat nooit 'n werklikheid geword het nie. Daarom het Ramaphosa in sy staatsrede Donderdagaand nie veel beloftes oor dié bedryf gemaak nie. Daar is egter goeie punte wat hy gemaak het, soos onder meer die feit dat munisipaliteite self verantwoordelik gehou kan word vir kragvoorsiening.  

EN

Intussen se Wouter Wessels, 'n Vryheidsfront Plus LP en hoofwoordvoerder van dié party oor openbare ondernemings, die feit dat pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede weer verwys het na grondonteiening sonder vergoeding trek 'n streep deur al sy planne ten opsigte van ekonomiese groei in Suid-Afrika. Wessels sê die feit dat Ramaphosa verwys het na droogtetoestande in Suid-Afrika en die werk wat gedoen word deur die Landbounavorsingsraad om te kyk na die mitigering van die droogte-impak is 'n positiewe punt. Dit behels onder meer die uitroei van sekere plante en om meer weiding aan te plant vir diere op 'n produktiewe wyse in droogtegebiede. Hy meen egter dit was vaag en 'n langtermyn opsie. 


OFM-nuus

 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.