Agriculture
Landbounuus-podcast: Mpumalanga-boer dood ná onwettige betreding─── ELSABÉ RICHARD 13:48 Fri, 21 May 2021

Mpumalanga Landbou doen ‘n beroep op die polisie en die LUR vir Gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga om dringend maatreëls te implementeer wat betreding en die onwettige jag met honde sal stop.
Hierdie versoek volg nadat 'n 58-jarige boer van Amersfoort, wat Sondagoggend besig was om sy plaas te patrolleer, na bewering vermoor is aan die hand van persone wat onwettig met honde op sy plaas gejag het. Mpumalanga Landbou meen onwettige jag, met of sonder honde, is ‘n oortreding in terme van die Wet op Wilddiefstal. Die organisasie sê ook die teenwoordigheid op private eiendom, sonder toestemming, is ‘n oortreding in terme van die Wet op Betreding. Verder versoek die organisasie ook dat die polisie alles in hul vermoeë moet doen om die oortreders verantwoordelik vir die dood van die boer in hegtenis te neem.
’n Wegholveldbrand, wat Donderdagmiddag ongeveer 8km buite Boshof in die Vrystaat ontstaan het, is dieselfde dag onder beheer gebring. Dit volg nadat die wind die brand na die S400 op pad na Petrusburg versprei het. Volgens 'n verklaring deur Vrystaat Landbou, het die veldbrand plek-plek teen homself doodgebrand en op sekere dele het reën effens verligting gebring. Die organisasie herinner boere weer eens aan die enorme brande wat slegs sewe maande gelede byna 100 000 hektaar in die Hertzogville-, Boshof-, en Hoopstad-gebied in die Vrystaat verwoes het. Dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van die organisasie, het bevestig dat ‘n skadebepaling so gou moontlik in samewerking met die landbouvereniging-strukture gedoen sal word. Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.
EN
EN...Boere in die droogtegeteisterde Steinkopf-omgewing in die Noord-Kaap het Vrydag 21 Mei voerskenkings ontvang. Sybil Visagie, 'n boervrou en stigter van ‘Save the Sheep’, sê aan OFM-nuus dat voer, met die hulp van Gift of the Givers, aan 15 boere in die omgewing geskenk is. Intussen sê Lionel Cloete, van die Steinkopf boerevereniging, dat hulle ongelooflik dankbaar vir die skenkings is. Cloete voeg by dat hulle ook dankbaar is vir sowat 8mm reën wat Donderdagaand in die omgewing voorgekom het.
OFM-nuus