Agriculture
Inflasie kan daal, maar voedselpryse gaan dalk hoog bly─── BAMBATHA GIKO 06:47 Mon, 19 Dec 2022
Verbruikers sal moontlik steeds meer moet betaal om die basiese voedselmandjie te kan bekostig, aangesien voedselpryse na verwagting volgende jaar dieselfde sal bly of sal verhoog - ten spyte van die geprojekteerde afname in inflasie.
Volgens Stats SA het pryse van voedsel en nie-alkoholiese drankies met 12,5% op 'n jaargrondslag vir November 2022 gestyg. Dit is hoofsaaklik as gevolg van stygende pryse van olies en vette, brood en graan. Die pryse is na bewering die hoogste sedert April 2009.
LEES OOK: Voedselsekerheid kan verbeter met vennootskappe
Die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher, sê die hoofdrywer van voedselinflasie lê anderkant die plaashekke. Voedselinflasie is die gevolg van vervoerinflasie en die koste wat die boer moet akkommodeer om die produk by die verbruikers te kry.
Dié koste sluit onder meer die verwerking van produkte en verpakking in.
“Enige ander koste binne die voedselwaardeketting wat kosteverhogend is, word deurgegee aan die verbruikers. En dit is eintlik die onderliggened kragte wat kosinflasie dryf,” sê Laubscher.
Laubscher voeg by, 'n groot deel van die bykomende koste, is die gevolg van ondoeltreffendheid soos die behoefte aan institusionele verbetering.
Hy verwys na die swak padtoestande wat bydra tot die koste van vervoer en die gebrek aan behoorlike logistiek.
“Baie van daardie kostes wat so toegevoeg word, is die gevolge van ondoeltreffendhede.
"Jy kan dan net vir jouself dink, op 'n swak pad, as jy drie vragte op 'n pad kon ry op 'n dag, maar nou is die pad só dat jy net twee vragte kan ry - wie betaal vir daardie koste?”
Laubscher sê verbruikers kan ook 'n prystoename in vleisprodukte en brood verwag. Die pryse is nie noodwendig aan produsente te danke nie, maar is 'n gevolg van ander faktore in die waardeketting.
“Die verwagting is dat inflasie volgende jaar bietjie afkom maar ek dink ons gaan nog maar bly duur betaal vir ons kos”
