On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Laurika
Listen Live Streams

Agriculture

Eis geld van Vergoedingsfonds ná werksbeserings

───   ELSABÉ RICHARD 07:47 Thu, 03 Aug 2023

Eis geld van Vergoedingsfonds ná werksbeserings | News Article
FOTO: EVG Kowalievska/Pexels.

Baie produsente is nie bewus dat hulle ook geld kan eis vir die kilometers wat hulle gery het om 'n werker, wat aandiens beseer is, by die dokter te kry om mediese behandeling te ontvang nie.

Só sê Stephan Pietersen van Work Accident Support in sy gesprek met OFM Nuus. 

Wat is die belangrikste rede hoekom produsente registreer by die Vergoedingsfonds?

Dit is om werkers te vergoed teen werksbeserings deur vergoeding te betaal aan die werkers wat ernstige beserings opgedoen het en ’n mate van permanente ongeskiktheid opgedoen het.

Dit is ook om produsente te vergoed vir lone en salarisse wat hulle aan beseerde werkers betaal het toe hulle van diens afgeboek was, en dan ook om die werker se salaris direk te betaal indien die werker vir meer as drie maande van diens afgeboek is.

In die verlede, voor die wetgewing, moes beseerde werkers besighede dagvaar om enige vergoeding te ontvang vir werksbeserings. 

Sodra enige besigheid nou geregistreer is, het die besigheid of die produsent dekking waar ’n werker hulle nie kan dagvaar vir enige betalings nie aangesien die Vergoedingsfonds verantwoordelikheid moet neem vir enige betalings in terme van die COID-wet.

Verder is daar ook wat hulle noem ’n “no fault principle” waar geen bewyse voorsien hoef te word oor wie se skuld die besering is nie. Die Vergoedingsfonds sal die besering aandiens aanvaar op grond van die feite wat hulle verkry vanaf die produsent, asook die mediese inligting vanaf die dokter.

Sê ’n werker is beseer en die produsent het alle prosedures gevolg en die werksbesering geregistreer, die werker ook na die dokter geneem vir behandeling en ook self van die mediese onkoste betaal, watter voordele sal hier betaalbaar wees? 

Gestel die werker is afgeboek vir meer as drie maande:

  • Eerstens sal die produsent terugbetaal word deur die Vergoedingsfonds vir die eerste drie maande en daarna mits die produsent die werker nie meer lone gaan betaal ná die drie maande nie, kan die werker die salaris direk vanaf die Departement van Indiensneming en Arbeid terugeis in die provinsie waar die werker seergekry het.
  • Die dokters is veronderstel om enige mediese onkoste direk vanaf die Vergoedingsfonds terug te eis, maar ongelukkig gebeur dit nie altyd so nie. 
  • Indien 'n produsent wel enige mediese onkostes betaal, kan hulle dit terugeis deur die bewys van betaling, die faktuur wat deur die dokter uitgereik was asook die mediese verslag deur die dokter aan die Vergoedingsfonds te voorsien.

Wat van die kilometers wat die produsent gery het om die werker te vervoer om mediese behandeling te kry?

Die is iets wat ek dink baie produsente nie van kennis dra nie, maar hulle kan wel die kilometers terugeis deur 'n voorgeskrewe vorm te voltooi, asook die mediese vorm wat bevestig dat die werker wel behandeling gekry het. Dit word dan aan die Vergoedingsfonds voorsien.

Enige laaste woorde aan produsente?

Daar is nagenoeg 4 200 produsente in die Vrystaat wat geregistreer is met die Vergoedingsfonds wat om en by 82 000 werkers dek. 

Produsente moet so ver as moontlik probeer om altyd gebruik te maak van hulle voordele in terme van die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes, aangesien hulle nogal redelik hoë tariewe aan die fonds betaal. 

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.