Agriculture
Mening: Wat ons by Franse boere kan leer─── 11:09 Thu, 01 Feb 2024
“Die Franse boere is in ‘n stryd gewikkel met hul regering oor finansiële oorlewing van hul landbousektor en beskerming van die landelike ekonomie.”
Groot getalle boere neem deel aan protesoptogte op die hoofweë rondom die Franse hoofstad, Parys, waar hul stadig bewegende trekkers die verkeer erg ontwrig.
Wat kan Suid-Afrika leer by die Franse landbou-omstandighede om soortgelyke ontevredenheid in Suid-Afrika te voorkom? Agri SA adjunk-president, Nicol Jansen, deel sy gedagtes.
Wat veral opval van die Franse boere se betogings, is hulle sterk vasberadenheid om deur te dring tot by die regering, en nie bloot te demonstreer of ’n eenmalige optog te hou nie. Hierdie boere ontwrig die verkeer al vir dae, en dit verseker die aandag van hul regering. Die nuwe Franse premier, Gabriel Attal, het beloof om maatreëls aan te kondig om die situasie te ontlont.
Die oorsaak van die ontevredenheid is nie nuut nie; hierdie soort betogings het reeds in 2016 voorgekom. Die Franse boere ervaar oorregulering met betrekking tot produksievereistes wat hulle moet nakom om hul produkte op die mark te kry. Biologiese boerderypraktyke vir natuurlike produkte word afgedwing met regulering wat die produksiekoste verhoog.
Die Franse boere ondervind ook, soos hul eweknieë in Duitsland en Nederland, die impak van afnemende staatsubsidies wat in die verlede betekenisvol was en nou winsgewendheid knel.
‘As ’n ontwikkelende land is ons dikwels ’n hanetreetjie agter Europese lande’
Die Franse boere betoog teen oorregulering, verhoogde insetkoste en vra vir die verslapping van regulasies wat produksie en marktoegang kan verbeter. Hulle versoek ook staatsondersteuning, soos verhoogde dieselrabatte en beskerming teen goedkoop invoer wat met plaaslik vervaardigde produkte kompeteer.
Sommige boere sê selfs dat die regering hulle behoort te vergoed vir hul harde werk en toewyding om voedsel te produseer, en dat hulle nie na waarde geag en vergoed word nie.
Wanneer ons na die Franse landbou-omstandighede kyk, kan ons wonder waar die fout begin het dat die Franse boere se winsgewendheid nie meer volhoubaar is nie, en hoe Suid-Afrika soortgelyke probleme kan voorkom. As ’n ontwikkelende land is ons dikwels ’n hanetreetjie agter Europese lande, maar ons moet versigtig wees om nie dieselfde foute te maak nie.
‘Wanneer subsidies verminder word, kom winsgewendheid onder druk’
’n Groot faktor is staatsinmenging in die vrye mark deur regulering wat nie vraag en aanbod as prysbepalers respekteer nie. Boere word gedwing om aan produksievoorwaardes en standaarde te voldoen, wat nie altyd strook met die markvraag nie.
Die Franse landbou is ontwikkel binne ’n hoogs gesubsidieerde staatsgesubsidieerde omgewing, wat buite die ware vrye mark spasie val. Wanneer hierdie subsidies verminder word, val die prysbuffer weg, en winsgewendheid kom onder druk.
Dit is belangrik dat die Suid-Afrikaanse regering nie soortgelyke foute maak nie. Daar moet sorgvuldig gekyk word na die impak van regulering op die landbou en hoe dit die vraag en aanbod beïnvloed. Die landbou-sektor en leiers is teen inmenging deur die regering wat produksie en prysbepaling probeer reguleer, en teen belasting op landboudiesel, wat die bedryf onnodig belas.
Dus, terwyl die Suid-Afrikaanse regering deelneem aan internasionale sake, moet dit ook kyk na die ervaringe van ander lande en sorg dra dat beleidstellings nie die landbou en ekonomie ontwrig nie. Watergebruik en uitvoerbeperkings moet deurdink word om markstabiliteit en voedselproduksie te verseker.