On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Agriculture

Wat sê die reg oor vervoer van arbeiders na stempunte?

───   06:21 Mon, 05 Feb 2024

Wat sê die reg oor vervoer van arbeiders na stempunte? | News Article
Foto: Getty Images

Wat sê die reg rakende vergaderings op plase en die vervoer van plaasarbeiders na stempunte?

Potchefstroomse regskenner, Hans-Jurie Moolman, beklemtoon dat die reg om deel te neem aan 'n verkiesing een van Suid-Afrika se fundamentele regte is, asook 'n grondwetlike waarde.

“Dit is 'n baie hoë-orde reg volgens ons land se grondwet, en daarom geld daar tydens die verkiesingstydperk sekere verslappings van die normale reëls. Dit is om mense die geleentheid te gee om deel te neem aan die verkiesing en hul demokratiese stemreg uit te oefen.”

Hy verduidelik dat die verkiesingswetgewing nie spesiale uitsonderings maak vir die normale diensverhouding tussen werkgewers en werknemers nie. Daarom kan van werknemers verwag word om hul normale werksure te handhaaf. “Daar is geen plig op werkgewers om werknemers byvoorbeeld verlof te gee om aan politieke aktiwiteite deel te neem nie. Die verkiesingsdag is gewoonlik 'n openbare vakansiedag, wat beteken dat persone vry is om te gaan stem.”

Daar is ook vergaderings wat in die aanloop tot die verkiesing plaasvind. Wetgewing bestaan wat spesifiek handel oor openbare byeenkomste, wat besonderhede bevat oor enige byeenkoms met meer as 15 mense op 'n openbare plek of pad.

“Indien 'n aktiwiteit 'n ontwrigting van verkeer of ander aktiwiteite veroorsaak, moet 'n openbare byeenkoms goedgekeur word deur die Suid-Afrikaanse polisiediens,” sê Moolman.

Huisbesoeke val nie noodwendig onder hierdie kategorie nie, maar eienaars van grond het steeds die reg om toegangsbeheer tot hulle plase toe te pas.

Wat die vervoer na stempunte betref, sê Moolman dat stempunte dikwels in stedelike gebiede geleë is. “Dit is 'n vrye keuse vir werkgewers om werknemers te vervoer om te gaan stem. Dit is 'n belangrike reg, en as werkgewers besluit om persone te help om hulle reg uit te oefen, is dit 'n edele motief. Nietemin, is dit nie 'n verpligting op werkgewers om dit te doen nie.”

Hy beklemtoon egter dat die vervoer veilig moet wees, veral waar persone, wat dikwels broodwinners is, nie tydens die proses beseer mag word nie. “Ek dink dit is iets wat ernstig opgeneem moet word, veral deur werkgewers, omdat 'n ongeluk tydens die vervoer ernstige gevolge kan hê. Dit is waarskynlik een van die grootste risiko's,” sluit Moolman af.

OFM Agri

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.