On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Hoe raak Turkye se koringinvoerverbod Suid-Afrikaanse produsente?

───   05:00 Tue, 18 Jun 2024

Hoe raak Turkye se koringinvoerverbod Suid-Afrikaanse produsente? | News Article
Foto: Adobe Stock (World Grain)

“Met hierdie invoer [vanuit Rusland en die Oekraïne] wat nou [deur Turkye] gestop gaan word, sal daar ’n opbou van voorraad in die wêreldmark wees.”

Turkye het onlangs aangekondig dat hulle koringinvoer gaan verban. Hierdie besluit kan belangrike implikasies vir die wêreldmark en vir Suid-Afrikaanse produsente inhou.

Graan SA landbou-ekonoom, Heleen Viljoen, verduidelik dat die wêreldmarkte ons plaaslike markte direk beïnvloed, en dat Turkye, as die tweede grootste koringinvoerder ter wêreld, se besluit kommerwekkend is.

Turkye voer ongeveer 70% persent van hul koring uit Rusland in en ongeveer 20% persent uit Oekraïne. “Met hierdie invoer wat nou gestop gaan word, sal daar ’n opbou van voorraad in die wêreldmark wees. Basiese ekonomie leer ons dat ’n hoër aanbod, sonder ’n ooreenstemmende vraag, tot laer pryse lei. Suid-Afrika, as ’n netto invoerder van koring, sal hierdie laer pryse ervaar, wat ons invoermarkte sal beïnvloed.”

Op die vraag of daar enige moontlikheid van beter samewerking binne BRICS is, het Viljoen genoem dat hulle nog nie bewus is van enige spesifieke inisiatiewe nie. “Dit kan egter gebeur dat Suid-Afrika, wat die meerderheid van ons koring invoer, meer koring van Rusland af sal invoer, veral aangesien Rusland ’n goeie produksieseisoen agter die rug het. Dit kan tot laer pryse lei, wat ons plaaslike produsente negatief kan beïnvloed.”

Plaaslike verbruikers het reeds begin om van invoer gebruik te maak om hoë binnelandse vervoerkostes te vermy, aangesien daar koring vanaf die buiteland beskikbaar is en plaaslike voorrade laag is. Tydens Graan SA se kongres vroeër vanjaar, het sommige produsente aangedui dat hulle nie van plan is om koring aan te plant nie en selfs hul saad verkoop het. 

‘Goedkoper om mielies uit Argentinië in te voer as om dit na kusgebiede te vervoer’

Viljoen het verder verduidelik dat dit goedkoper is om mielies uit Argentinië in te voer as om dit van die binneland na die kusgebiede te vervoer. Soortgelyk ervaar koringprodusente geweldige druk as gevolg van laer internasionale pryse en hoë insetkostes, wat dit moeilik maak om produksie te regverdig.

Wat aanplantings betref, het die nasionale oesskattingskomitee aan die einde van April hul voorneme om koring vir die 2024-seisoen aan te plant, vrygestel. Daar is ’n afname van ongeveer 3% in die beplande hektare, veral in die droëlandproduksie-areas soos die Vrystaat, Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, en Limpopo.

OFM Agri

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.