On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Plaagdoders steeds onontbeerlik vir voedselvoorsiening

───   ROBYN SCHUTTE 12:18 Tue, 26 Nov 2024

Plaagdoders steeds onontbeerlik vir voedselvoorsiening | News Article
Die gebruik van plaagdoders in voedselproduksie word grootliks gekritiseer te midde van die onlangse ramptoestand wat verklaar is.

Plaagdoders speel ’n belangrike rol in Suid-Afrikaanse voedselproduksie, maar daar is egter streng maatreëls wat nagekom moet word om verbruikers en produsente te beskerm.

Plaagdoders speel ’n sleutelrol in landbou om gewasse te beskerm teen peste, siektes en ander bedreigings, wat uiteindelik bydra tot voedselvoorsiening. Elriza Theron, woordvoerder by CropLife SA, lig die belangrikheid van plaagdoders uit en die verantwoordelike gebruik daarvan, te midde van die onlangse ramptoestand wat verklaar is ná gifstowwe in eetgoed gevind is wat by spaza-winkels verkoop word.

Die rol van plaagdoders in moderne landbou

Theron het klem gelê op die wanopvatting dat plaagdoders lukraak gebruik word. Sy verduidelik: “Ons kos, gewasse en selfs vesel het beskerming nodig teen insekte, siektes en ander bedreigings. Globaal verloor ons reeds tussen 20% en 40% van gewasse aan peste. Stel jou voor wat daardie syfer sou wees sonder beskermingshulpmiddels.”

Sy het verder verduidelik dat voedselvoorsiening nie net oor genoeg kos gaan nie, maar ook oor bekostigbaarheid. “Boere moet hul gewasse beskerm teen ’n redelike koste, sodat verbruikers uiteindelik ook kan baat”. Sy beklemtoon die wêreld se groeiende bevolking en langer lewensverwagting die uitdaging groter maak.


Verskil tussen goedgekeurde en nie-goedgekeurde plaagdoders

Theron verduidelik verder hoe plaagdoders ontwikkel word en die streng regulatoriese prosesse wat hulle moet deurgaan. “Dit neem gemiddeld meer as 12 jaar en kos sowat $300 miljoen om ’n nuwe plaagdoder op die mark te bring. Die data wat deur regulatoriese liggame vereis word, verseker dat produkte veilig, doeltreffend en omgewingsvolhoubaar is.”

In Suid-Afrika moet elke geregistreerde produk ’n registrasienommer hê wat met ’n “L” begin, gevolg deur vier of vyf syfers. Sy het verbruikers aangemoedig om etikette deeglik te lees, aangesien dit volledige instruksies en waarskuwings bevat.

Plaagdoders word soms net in spesifieke lande geregistreer weens verskillende klimaattoestande en plae. “Europa het byvoorbeeld nie sitrus-swartvlek nie, omdat hul klimaat te koud is, terwyl ons in Suid-Afrika spesifieke middels soos ‘Manco’ nodig het.”

Verantwoordelike gebruik uiters belangrik

Die korrekte en veilige gebruik van plaagdoders is nie onderhandelbaar nie. “Jy werk met gevaarlike stowwe en dit vereis verantwoordelikheid. Die regsriglyne en gebruiksaanwysings op etikette is daar vir ’n rede en moet streng nagekom word. Dit is die wet.”

Volgens Theron is volhoubare landbou net moontlik as alle rolspelers in die waardeketting hul verantwoordelikhede verstaan en nakom. “Dit help nie net sommige volg die reëls nie. Almal moet verantwoordelik optree om gewasbeskermingsprodukte volhoubaar te gebruik.”

Wettige gevolge van nie-nakoming

Theron het ook gewaarsku oor die regsgevolge van die misbruik van plaagdoders. “Die oortreding van Wet 36 van 1947 en die regulasies rakende gevaarlike chemiese middels kan lei tot boetes of selfs tronkstraf. Dit geld vir elke individuele oortreding, wat beteken dat die gevolge vinnig kan ophoop,” het sy gesê. Sy het benadruk dat landdroste of regters boetes kan vererger ingevolge die Wysigingswet op Boetes.

Theron het afgesluit deur te beklemtoon dat dit elkeen se verantwoordelikheid is om die land se wette na te kom en volhoubaar by te dra tot voedselvoorsiening. “Deur verantwoordelik te werk, verseker ons nie net veilige gewasse nie, maar beskerm ons ook die toekoms van die landbou.”

OFM Agri/Robyn Schutte cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.