Agriculture
Bek-en-klouseerverbod: Uitdagings, mites en gevolge vir vleisbedryf─── 05:30 Wed, 14 May 2025

Hoewel daar steeds uitdagings met die bestuur van bek-en-klouseer bestaan, veral rondom implementeerbare vereistes, bly dit belangrik om te verstaan dat dit ’n internasionaal bestuurde siekte is.
Volgens Dewald Olivier, uitvoerende hoof van Red Meat Industry Services, vereis ’n werkbare oplossing samewerking tussen alle rolspelers – die regering, bedryf en produsente – veral in die lig van China se onlangse opskorting van Suid-Afrikaanse rooivleisinvoer.
“Ons is redelik bekommerd, en die bekommernis spruit uit ’n ooreenkoms tussen Suid-Afrika en China oor die hantering van ’n moontlike uitbreking. Daar is aanvaar dat ’n positiewe geval binne ’n provinsie net daardie provinsie sou raak.
“Dit is dus onduidelik waarom die hele land tans onder die verbod val, wat ons vermoë om uit te voer heeltemal strem,” sê Olivier. Hy verduidelik dat hoewel die omvang van die verbod nog bepaal moet word, die gevolge ’n rimpeling deur die bedryf kan stuur, met ’n beduidende impak op inkomste.
“Ons moet seker maak dat die versekering wat ons tans aan ons handelsvennote bied, voldoende is sodat hulle steeds met ons besigheid wil doen, nou en in die toekoms.” Een van die grootste struikelblokke is die implementering van praktiese, haalbare vereistes wat boere kan nakom.
“Bek-en-klouseer is nie net ’n Suid-Afrikaanse siekte nie – dit word internasionaal bestuur. Ons moet voldoen aan internasionale standaarde, maar terselfdertyd kyk hoe ons onsself binne die Suid-Afrikaanse konteks kan beskerm. Dit vereis samewerking tussen die regering, die bedryf en elke rolspeler in die waardeketting, van plaaseienaar tot abattoir.”
Boere ly miljoene onder verbod
Intussen meen dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder vir landbou, dat die huidige streng maatreëls van die Departement van Landbou nie op wetenskaplike gronde gebaseer is nie.
“Terwyl bek-en-klouseer in die Noordelike Halfrond dodelik en rampspoedig vir die hele landbou-ekosisteem is, is dit nie in Suid-Afrika die geval nie,” sê Boshoff. “Minister van Landbou, mnr. John Steenhuisen, het onlangs in ’n skriftelike parlementêre antwoord bevestig dat geen beeste in die jongste uitbreking dood is nie en dat die siekte nie by skape of bokke bespeur is nie.”
Hy wys verder daarop dat die hoë koste van entstowwe, wat tans uit Botswana ingevoer word, die situasie vererger, aangesien plaaslike vervaardiging dit aansienlik goedkoper kan maak.
‘Bepleit sterker naspeurbaarheid en akkurate wetenskaplike inligting’
“Kommersiële en bestaansboere in die ingeperkte gebiede van KwaZulu-Natal kon sedert Februarie vanjaar geen diere verkoop nie, wat tot die onwettige vervoer van diere en verdere verspreiding van die virus in ander provinsies lei,” waarsku Boshoff.
Hy bepleit sterker naspeurbaarheid, strategiese inenting, binnelandse vervaardiging en akkurate wetenskaplike inligting as oplossings. “Slegs plase wat direk geraak word, moet afgesper word.
“Die grootste probleem is dat ’n siekte wat nie gevaarlik is nie, tans as ’n hoogs gevaarlike potensiële ramp hanteer word. Suid-Afrikaanse owerhede moet die moeilike pad loop om die buiteland in te lig dat bek-en-klouseer in Suid-Afrika verskil van dit wat hulle ken.”
Mites en wanopvattings
Olivier noem dat daar steeds mites oor bek-en-klouseer bestaan, insluitend die misverstand dat dit met mond-en-voet siekte, wat veral by kinders voorkom, verwar word. Hy verduidelik dat bek-en-klouseer glad nie vir mense skadelik is nie.
“Daar is ook wanopvattings oor inenting. Mense vra dikwels, ‘maar hoekom ent ons nie net die hele land nie?’ Die probleem is dat verskillende handelsvennote verskillende vereistes vir stoetdiere het.
“As ons byvoorbeeld alle melkerye in Suid-Afrika inent, sal dit die verwerking van melk aansienlik duurder maak,” sê Olivier.
‘Ons moet ons bedryf beskerm’
Hy maan produsente om met die regering en relevante dieregesondheidsdiensverskaffers te skakel om seker te maak dat hulle die korrekte inligting ontvang.
“Elke boer is verantwoordelik vir die beskerming van sy eie eiendom. Die beesbedryf behoort aan die boere en die waardekettingrolspelers – nie die regering nie.
“Ons moet ons bedryf beskerm.”
OFM Agri mvh