On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agriculture

Sybokhaar bly stabiel op markte

───   ISABEL VAN TONDER 12:51 Wed, 10 Dec 2025

Sybokhaar bly stabiel op markte | News Article
Sybokhaarpryse bly grotendeels stabiel. Foto: Wikipedia

Sybokhaarpryse het stabiel gebly, volgens ’n markoorsig van OVK.

Tydens die onlangse laaste veiling van die 2025-winterseisoen is 104 477 kg aangebied, waarvan 95% verkoop is. Al verhandel die rand sterker teen die VSA-dollar, het kopers deurgaans mededingend deelgeneem. 

Op die keper beskou, bly marktoestande egter grotendeels stabiel.

Sowat 1 000-agorabokplase

Vergeleke met die vorige veiling, het die gemiddelde markaanwyser met 2% gedaal en op R355,65/kg gesluit. ’n Topprys van R800/kg is behaal vir ’n baal 25 mikron goeie styl-kleinbokkiehaar.

Die gemiddelde markaanwyser vir die laaste veiling van die 2024-winterseisoen was R335,91/kg, 6% laer as die markaanwyser. Die eerste veiling van die 2026-somerseisoen word beplan vir 10 Februarie.

In Suid-Afrika word op sowat duisend plase met angorabokke geboer, waarvan 700 kommersiële boerderye is en 300 kleinboere, berig Nisboere

Sybokhaar bly stabiel en die die Oos-Kaap en Karoo word as voorlopers in die bedryf beskou Foto: Grieta Pike

Alle skeersels word na die omgewing van Gqeberha vir verwerking gebring. Die Baai se hawe is Suid-Afrika se enigste uitvoerhawe vir sybokhaar.

Die Oos-Kaap en Karoo word as die voorlopers beskou in ’n bedryf, wat suksesvol daar ontstaan het en steeds van krag tot krag gaan. Amper vier uit elke vyf sybokhaarboere is in die Oos-Kaap, ’n vyfde in die Wes-Kaap, maar Gauteng het ook ’n handjievol.

Die sybokhaar wat ’n inkomste vir produsente verdien, kom van bokke in drie ouderdomsklasse. 

Klimaatstoestande beïnvloed skeersel

Van klein bokkies word per skeersel van 500 en 600 g afgehaal, van volwasse ooie tussen 1,5 en 1,8 kg en van volwasse ramme tussen 2 en 3 kg.  Die skeersel per bok hang af van die klimaatstoestande waarin die bokke grootword. 

Angorabokke lewer ’n konstante inkomste, omdat hulle twee keer per jaar geskeer word. Die bokke se lewensverwagting van agt tot tien jaar bied 16 tot 20 skeersels. 

Terselfdertyd teel die bokke aan, wat beteken die produsent se inkomste uit sybokhaar word ’n stewige hupstoot gegee. Boere verdien ook deur van die lammertjies in die lamtyd te verkoop. Dit alles bring ’n goeie omset mee.

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Isabel van Tonder mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.