Agriculture
‘Dag Zero’ vir bek-en-klouseer in Wes-Kaap─── ISABEL VAN TONDER 12:33 Thu, 11 Dec 2025
Agri Wes-Kaap (AWK) en die Rooivleisprodusenteorganisasie in dié provinsie bevestig geen nuwe gevalle van bek-en-klouseer is aangemeld nie.
Die eerste geval is op Gouda aangemeld. Ondersoeke toon die siekte bly beperk tot die indeksplaas. Die beheermaatreëls wat ingestel is, was geslaagd.
’n Span van die departement van landbou se veeartsenykundeafdeling bevestig 25 November is as die amptelike “Dag Zero” bepaal; daarom kan die besmette kudde op die indeksplaas nou van kant gemaak word volgens die voorgeskrewe protokol, onder toesig van die departement en met streng biosekerheidsmaatreëls. Plase binne die aangewese kwarantyngebied bly onder dieselfde beperkings totdat die tweede stel laboratoriumtoetse ontvang is.

Die bek-en-klou veesiekte is onder beheer in die Wes-Kaap. Foto: Pexel
Dis noodsaaklik voordat enige opheffing van kwarantyn oorweeg kan word. Totdat bevestig is dat geen risiko bestaan nie, bly alle plase binne die kwarantyngebied onder kwarantyn.
“Ons is dankbaar dat die situasie stabiel bly en dat geen verdere verspreiding plaasgevind het nie,” sê Louis Wessels, Agri Wes-Kaap se regsbestuurder. “Die beskerming van die Wes-Kaap se veesektor bly ons hoogste prioriteit.
“Ons sal aanhou saamwerk met die departement van landbou, wetstoepassingsagentskappe en die bedryf om die uitbreking te beperk, te bestuur en te beëindig. Biosekerheid was nog nooit so belangrik nie.”
Abattoir se akkreditasie hoofprioriteit
Die akkreditasie van die geïdentifiseerde abattoir vir beheerde slagtings is reeds deur die departement van landbou oorweeg. Dit moet aan streng vereistes voldoen voordat amptelike goedkeuring verleen kan word.
Verdere koördinering vind plaas tussen die verantwoordelike departemente en ander rolspelers. Registrasie van die geakrediteerde abattoir is die tans hoofprioriteit.
Die provinsiale verkeersafdeling en die polisie sal die gebied steeds fyn dophou. Die nakoming van bek-en-klouseerprotokol word deel van hul breër feestydse operasionele plan.
LEES OOK: Bek-en-klouseer versprei steeds in Vrystaat
AWK en die RPO in die Wes-Kaap vra alle produsente, veevervoerders en rolspelers moet waaksaam bly. Biosekerheid moet op elke plaas, elke voertuig en by alle beweging van diere gehandhaaf word.
Die behoud van streng biosekerheidsmaatreëls bly die doeltreffendste manier om te voorkom dat die siekte versprei en om die Wes-Kaap se waardevolle rooivleisbedryf te beskerm.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
OFM Agri/Isabel van Tonder mc/mvh 
