Agriculture
Longontsteking knou wins in veeboerdery─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 19 Feb 2026
Longontsteking is een van die algemeenste en duurste siektetoestande by vee.
Dit raak nie net dieregesondheid nie, maar ook groei, voeromset en eindelik wins. Wanneer marges reeds onder druk is, kan swak bestuur van respiratoriese siektes ’n groot geldelike uitwerking hê.
Beeste en skape van enige ouderdom kan longontsteking kry, maar dit is veral die jonger diere wat die meeste geraak word, sê dr. Hanri Bester-Cloete, staatsveearts van Bloemfontein se veterinêre kliniek. “Daar is drie bydraende faktore naamlik stof, stres en temperatuur.”
Gevalle neem toe in die lente en herfs – veral wanneer die nagte koel is, maar die dae warm en die temperatuur met tot 20 °C wissel. “Dink jou in as jy buite in die veld is, en in die dag is dit 30 °C of warmer, binne ’n paar uur val die kwik tot 10 °C, net om weer die volgende dag warmer te word.
“Dit veroorsaak geweldige stres vir die diere. Wanneer kalwers of lammers gespeen word, dra dit ook by tot ’n stresvolle omgewing, sowel as stowwerige krale,” sê Bester-Cloete.
Wees op die uitkyk vir vroeë waarskuwingstekens. Diere wat hoes, ’n loopneus het, diere wie se eetlus afneem, en diere wat agter loop as hulle aangejaag word is in baie gevalle vroeë tekens van die siekte. Daar is dikwels ook vrektes.
Longontsteking by vee word gewoonlik gediagnoseer wanneer die dier ’n hoë koors het, dikwels tussen 39 en 40 °C. Longgeluide kan soms met ’n stetoskoop opgetel word. Behandeling moet so gou moontlik begin, voeg Bester-Cloete by. Behandeling kan nie eenmalig wees nie; dit moet minstens vyf tot sewe dae aanhou, selfs al lyk die diere beter.
Gebruik ’n antibiotika wat oksitetrasiklien, florfenikol of ’n sulfa bevat saam met ’n anti-inflammatoriese middel. “In nadoodse ondersoeke sien ons dikwels daar vorm weens inflammasie aanhegtings tussen die longe en die borskas, en selfs al word die dier gesond, sal daar permanente skade wees.”

Behandeling vir longontsteking kan nie net eenmalig toegedien word nie. Foto: Pexel
Inenting speel ’n belangrike rol, maar baie organismes kan tot die siekte bydra, sê sy. Geen entstof sal alles verhoed nie. In beeste is dit belangrik om ’n entstof te gebruik wat die virus bevat. Inenting moet voltooi word minstens twee weke voordat diere gespeen word, sodat hulle beskerm is wanneer die hoërisikotydperk aanbreek.
Wanneer diere toegemaak word, moet seker gemaak word daar is goeie ventilasie, veral skape wat in skure toegemaak word voordat hulle geskeer word. Voeding is ook belangrik om ’n sterk immuunstelsel te bou.
Genetika en rasverskille speel nie ’n direkte rol nie. Die belangrikste boodskap is “Ent nou, sodat jou diere teen einde Maart reg is wanneer die weer begin verander.”
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
