On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Inkbessie: Vergiftiging ’n versteekte gevaar vir vee

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 23 Jun 2026

Inkbessie: Vergiftiging ’n versteekte gevaar vir vee | News Article
Inkbessievergiftiging onder vee kom toenemend in die Vrystaat voor. Foto: Facebook

Inkbessie bly een van die minder bekende maar potensieel ernstige oorsake van vergiftiging by vee in Suid-Afrika.

Diere vermy gewoonlik giftige plante wanneer voldoende weiding beskikbaar is. Droogtetoestande, oorbeweiding en voertekorte kan egter veroorsaak dat hulle plante eet wat normaalweg nie deel van hul dieet uitmaak nie.

“Inkbessie is ’n indringerplant wat hoofsaaklik as sierplant na Suid-Afrika gebring en in baie tuine aangeplant is,” sê dr. Hanri Bester-Cloete, staatsveearts by die Bloemfonteinse veterinêre laboratorium. “Voëls versprei die sade, en dit kom tans al hoe meer in die Sentraal-Vrystaat voor.” 


Vergiftiging word ál meer gereeld aangemeld, sê sy. Die plant kom algemeen in tuine en op hoewes in en rondom Bloemfontein voor, en dit versprei ook na ander dele van die Vrystaat. 

Alle dele van die inkbessie bevat giftige verbindings, maar die hoogste konsentrasies kom gewoonlik in die wortels en sade voor. Die risiko neem toe wanneer groot hoeveelhede van die plant ingeneem word.

Die blare het ’n kenmerkende slegte reuk wanneer dit tussen die vingers gekneus word. Die plant dra sekere tye van die jaar fyn blommetjies, wat geel of pienk kan wees, en later die kenmerkende pers bessies.

Die plante kom gewoonlik in die koelte van ander bome en struike voor. Foto: African Legacy

Beeste, skape, bokke en perde kan almal deur inkbessie vergiftig word, waarsku Bester-Cloete. “Die eerste kliniese tekens is gewoonlik erge speeksel- en traanvloei, buikpyn, wanneer diere na die maag skop, en swartdiarree of hardlywigheid.” 

Later ontwikkel gesonke oë, aggressie, spiertrillings en onvastheid op die pote. “Ná die senuweesimptome volg die dood gewoonlik vinnig. In eenvoudige terme rig die gifstof lewerskade aan. Die vergiftiging is soortgelyk aan tulpvergiftiging.”

Die senuweesimptome kan dikwels met hondsdolheid, sponssiekte of rooiwater verwar word, vertel Bester-Cloete. Wanneer inkbessievergiftiging vermoed word, moet diere so gou moontlik uit die kamp verwyder word.

Geaktiveerde koolstof kan ingegee word, en lewerondersteuning kan ook gegee word. As die simptome reeds sigbaar is, is dit egter dikwels te laat om die dier te red.

Uitkap en uittrek van die plant is nie effektief nie, omdat die plant weer uit die wortel groei. Foto: Hanri Bester-Cloete

Die uitroeiing van die inkbessieplant is glad nie ’n maklike taak nie. Bespuiting met gifstowwe is ’n begin, maar sal oor ’n paar jaar herhaal moet word omdat die plant weer uit die wortel groei.

Uitkap en uittrek is nie doeltreffend nie, omdat die wortel afbreek en die deel wat in die grond agterbly weer uitgroei. Dooie plante is steeds giftig en moet weg van diere gehou word.

Bester-Cloete beveel aan dat diere voldoende ruvoer het om te eet, en dat daar seker gemaak word dat voer nie met die plant besmet is nie. “Loop minstens weekliks kampe deur waar jou diere loop, veral langs spruite en onder bome.”

OFM Agri/Isabel van Tonder sm

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.