Agriculture
Graanboere in Noordwes, Vrystaat hoop op opvolgreën─── 14:31 Thu, 26 Nov 2026
Graanboere in Noordwes en die Noordwes-Vrystaat sal in die komende weke op verdere reën aangewese wees om met hul someraanplantings te kan aanhou en die ontwikkeling van jong gewasse te ondersteun.
Graan SA sê in sy jongste verslag oor somergraanproduksietoestande dat gunstige reënval sedert einde Oktober produksievooruitsigte in verskeie gebiede verbeter het. Grondvogtekorte kom egter steeds in dele van Noordwes en die noordwestelike Vrystaat voor, waar beperkte reënval met buitengewoon hoë temperature gepaardgaan.
Die aanplanting van somergewasse is teen einde Oktober in onder meer die Oos-Vrystaat en Noordwes deur droë toestande en onvoldoende grondvog belemmer. Reën sedertdien het veral in die oostelike produksiestreke grondvogvlakke verbeter en gunstige toestande vir die ontkieming en groei van gewasse geskep.
Mielieaanplantings is in sommige produksiegebiede byna afgehandel, terwyl die aanplanting van sojabone goed vorder. Graan SA beklemtoon egter dat baie produsente steeds op verdere reën aangewese is om hul aanplantings af te handel en die ontwikkeling van jong gewasse te bevorder.
El Niño hou steeds risiko in
Agbiz-hoofekonoom Wandile Sihlobo waarsku dat die onlangse reën nie beteken dat die gevaar van droogte verby is nie. Hy meen die landbousektor kan egter verder baat vind indien goeie reënvalpatrone tot einde Desember gehandhaaf word.
“Boere wat reeds hul gewasse geplant het en nie deur hael geraak is nie, het ook by dié reën gebaat. As dit aanhou reën, sal dit voordelig bly vir die landbou en die weiveld vir vee,” sê Sihlobo.

Wandile Sihlobo. Foto: wandile.substack.com
Volgens hom het die onlangse reën ook gehelp om damvlakke te laat styg en grondvog aan te vul nadat hittegolwe in verskeie gebiede voorgekom het. Suid-Afrikaanse boere hou aan plant ondanks kommer oor die moontlike uitwerking van El Niño op landbouproduksie.
Groter belangstelling in sonneblomme
Suid-Afrikaanse graanboere beoog om sowat 4,5 miljoen hektaar somergraan en oliesade in die huidige produksieseisoen te plant. Volgens Landbouweekblad is dit net 2% minder as in die vorige seisoen, hoewel daar aansienlike verskille in die onderskeie gewasse se plantvoornemens is.
Boere beoog om sowat 2,4 miljoen hektaar mielies te plant, 12% minder as in die vorige produksieseisoen en die kleinste oppervlakte in agt jaar. Daarteenoor het die beoogde oppervlakte vir sonneblomme met 45% tot byna 825 000 hektaar toegeneem.
Sihlobo skryf die groter belangstelling in sonneblomme toe aan boere se verwagtinge oor moontlike droogtetoestande. Produsente hoop volgens hom dat hulle beter opbrengste met sonneblomme as met mielies sal kan behaal indien ongunstige weersomstandighede gedurende die groeiseisoen voorkom.
Grondvog bly deurslaggewend
Hoewel grondvogtoestande tot middel November gunstig met dié van die vorige seisoen en die vyfjaargemiddelde vergelyk het, put hittegolwe grondvogreserwes uit. Dit kan veral uitdagings inhou vir produsente in die westelike somergraanproduksiegebiede waar minder reën geval het.
Die El Niño-verskynsel sal na verwagting tot April aanstaande jaar ’n rol speel en die risiko van warmer en droër toestande verhoog. Volgens Graan SA is daar ook in sommige produksiegebiede berigte van haelskade, onkruid, snywurms en knaagdiere wat probleme veroorsaak.
OFM Agri cvdw
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

