Offbeat
Weird Wide Web – Te vroeg vir baas se smaak─── 15:20 Mon, 08 Dec 2025
Die meeste mense word afgedank omdat hulle laat is, reg? Wel, nie in hierdie geval nie. ’n Afleweringswerker in Spanje is afgedank omdat sy te vroeg was.
Die meeste mense kry moeilikheid, omdat hulle laat vir werk opdaag … maar ’n Spaanse vrou het bewys dat jy ook jou werk kan verloor omdat jy te vroeg is. Die afleweringswerker van Alicante het gewoonlik tussen 06:45 en 07:00 by die werk opgedaag, al het haar kontrak bepaal dat sy eers 07:30 hoef te begin.
In plaas daarvan om ekstra punte te kry vir ywer, het sy haar bestuurder behoorlik geïrriteer – veral omdat daar teen daardie tyd geen werk vir haar was nie. Sy is reeds in 2023 gewaarsku, maar het steeds vroeg opgedaag en die bestuur se klagtes geïgnoreer.
Uiteindelik is sy afgedank vir “ernstige wangedrag”, met die argument dat sy nie tot die maatskappy se werkwyse bygedra het nie en boonop direkte instruksies verontagsaam het. Sy het die afdanking as belaglik beskou en die saak hof toe geneem – maar die hof het haar nóg meer verras deur ten gunste van die werkgewer te beslis.
Die hof het bevind dat sy, deur herhaaldelik waarskuwings te ignoreer, die verhouding van vertroue en lojaliteit verbreek het. Die regter het dit “baie ernstige wangedrag van ongehoorsaamheid en ontrouheid” genoem – genoeg om haar afdanking te regverdig.
Ons is altyd bang om laat te wees … maar blykbaar kan te vroeg wees jou ook jou werk kos. Mik daarvoor om betyds te wees – nie laat nie, maar moet ook nie té ywerig nie.
