Podcasts
PODCAST: Landbousektor en regering in gesprek─── 12:52 Thu, 16 Aug 2018
Georganiseerde landbou is op 'n gereelde basis met die regering en die ANC in gesprek oor polsende kwessies wat die landboubedryf raak.
'n Amptelike uitnodiging deur die ANC vanuit Luthuli-huis, wat aan Agri SA gerig is om met georganiseerde landbou en met boere op grondvlak te gesels, is egter 'n verdere stap in die regte rigting. Dít is volgens Agri SA se president, Dan Kriek, wat Woensdag op Vrystaat Landbou se algemene jaarkongres buite Bloemfontein aangekondig het dat dié organisasie die uitnodiging deur die ANC se adjunk-sekretaris generaal, Jesse Duarte, met ope arms aanvaar het.
Kriek het aan OFM-nuus gesê gesprekke van dié aard is van groot belang. Hy sê die ANC-regering gaan nou vanaf boere self hoor en dit is belangrik want die regering besef nie die onsekerheid wat in landbou-geledere sedert die begin van die jaar heers nie.
Agri SA is baie bekommerd oor die onlangse kommentaar van die ANC se voorsitter, Gwede Mantashe. Mantashe het in 'n onderhoud met News24 voorgestel dat ‘n beperking op grondeienaarskap in Suid-Afrika ingestel word en dat wit kommersiële boere tot 12 000-hektaar grond beperk word. Mantashe het verder voorgestel dat die oorblywende deel van dié grond wat besit word, aan die regering sonder vergoeding oorhandig moet word. Hy sê daar is 'n hunkering na grond onder swart Suid-Afrikaners wat deel van die voormalige Bantoestans is. Agri SA se uitvoerende direkteur, Omri van Zyl, sê grond, kommoditeite en gebiede is ekonomiese eenhede en finansiering van grond gaan 'n probleem wees. Daarmee saam sal die konsep van 'n grondplafon die waarde van eiendomme negatief raak. Hy sê Agri SA sal voortgaan om enige vorm van onregmatige inperking van eiendomsregte teen te staan.
EN
Vrystaat Landbou beoog om elke plaas in die Vrystaat wat op die sogenaamde onteieningslys is, wat uitgelek is aan AfriForum en deur die organisasie versprei word, te verifieer. Vrystaat Landbou se herverkose president, Francois Wilken, het Woensdag op dié organisasie se algemene jaarkongres buite Bloemfontein gesê daar moet vasgestel word waarom plase op dié lys verskyn. Daarmee saam moet daar ook vasgestel word wat die doel van dié lys is, ongeag deur wie dit saamgestel is en deur wie dit versprei word.
Tommie Esterhuyse is ook herverkies tot ondervoorsitter van Vrystaat Landbou. Dié kongres eindig Donderdag.
OFM-nuus
