Agri Hour
#VrystaatLandbou: Wat behels noodweer of selfverdediging in aanvalle?─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Wed, 08 Jul 2020

Vrystaat Landbou (VL) se regsadviseur, Gernie Botha, bespreek nou wat noodweer behels asook sekere vereistes waaraan voldoen moet word vir die aanval op 'n mens wat in noodweer optree.
Hy sê die Suid-Afrikaanse reg maak wel voorsiening vir noodweer of selfverdediging. Dit is belangrik om ook bewus te wees van die nodige vereistes vir dié afwerende of beskermende handeling. Dit kom nadat drie aanvallers in twee uitsonderlike voorvalle op plase in die Vrystaat noodlottig gewond is. Hier is Botha...
Sien onderstaande PODCAST
Volgens hom behels noodweer die gebruik van geweld teenoor 'n ander mens in 'n poging om die lewe, asook die eiendom van die benadeelde mens te beskerm deur die toepassing van 'n afwerende handeling.
Botha sê vereistes vir die aanval op 'n mens wat in noodweer optree, sluit in dié aanval moet uit 'n positiewe handeling spruit. Hy sê 'n "direkte hou" op iemand toegedien is 'n positiewe handeling.
Daarmee saam moet die aanval onregmatig wees. Dit kom daarop neer dat die aanval aanranding, poging tot moord en onder meer opsetlike skade aan eiendom insluit. Die aanval kan gerig wees op 'n mens, anders as die mens wat in noodweer handel. Hy sê dié aanval moet voortspruit uit 'n handeling wat deur 'n mens geïnisieer word. 'n Dier of 'n lewelose voorwerp kan nie op sy eie onregmatig handel nie. Die aanval moet gerig wees teen 'n belang wat regtens beskerming verdien. Hy sê 'n mens tree in noodweer op ter beskerming van hul eie lewe of die van ander mense. Daarmee saam kan beskermingswaardige belange soos eiendom en 'n mens se goeie naam beskerm word. Die aanval moet in die proses wees om plaas te vind. Dit moet onmiddellik dreigend wees, en kan nie reeds afgehandel wees nie. Indien dít die geval is kan daar nie in noodweer opgetree word nie en optrede daarna sal 'n vorm van wraak wees.
Botha sê die vereistes vir dié afwerende of beskermende handeling sluit in dat dit teen die aanvaller gerig is Dit moet noodsaaklik wees om die belang wat bedreig word te beskerm. 'n Afwerende handeling sal beskou word as noodsaaklik as 'n mens in sy huis aangeval word. Daar word dan nie van so 'n mens verwag om uit sy of haar huis te vlug eerder as om 'n teenaanval te rig nie. Dié afwerende handeling mag nie meer skadelik wees as wat nodig is om die aanval af te weer nie. Dit kom daarop neer die geweld wat aangewend word om die aanval af te weer moet redelik wees teen die geweld wat deur 'n aanvaller gebruik word. Daar is ook faktore soos 'n vrou wat aangeval word, wat nie fisies opgewasse is teen 'n aanvaller nie, wat dan die gebruik van lewensgevaarlike geweld regverdig in omstandighede waar die aanvaller nie eers 'n wapen tot sy beskikking het nie.
OFM-nuus