Agri Hour
Afrika-handelsooreenkoms gaan té ongesiens verby─── 08:51 Thu, 18 Feb 2021

In vandag se insetsel praat dr. Kobus Laubscher, ‘n landbou-ekonoom, oor die intra-kontinentale handelsooreenkoms vir Afrika wat op 1 Januarie in werking getree het, wat dalk te ongesiens verbygaan.
Dit is die grootste (as ‘n mens so ‘n beskrywing kan gebruik) ooreenkoms van dié aard gemeet aan die aantal lande betrokke en ook die aantal mense. Laubscher sê hierdie inisiatief sal ‘n geraamde 1.3 biljoen mense in 55 lande deur middel van handel verbind. Dié lande se gesamentlike BBP beloop ongeveer $3.4 miljard, maar bied ook verskeie uitdagings.
Die heel grootste uitdaging is dalk meer filosofies van aard, naamlik om ‘n effektiewe teenwig te verskaf waar globale tendense juis wegstuur van vrye handel en oorgrens-samewerking as gevolg van Covid-19. Die WEF raam dat slegs 17% van Afrika se uitvoer intra-kontinentaal of binne die kontinent plaasvind. Dit is in skrille kontras met die sowat 59% in Asië en 68% in Europa. Afrika verteenwoordig maar sowat 2% van wêreldhandel.
Daarteenoor het handel met Afrika – invoer na die kontinent – van 2001 met gemiddeld 12% per jaar toegeneem tot R1.1 triljard. Suid-Afrika se uitvoer na die res van Afrika het selfs vinniger gegroei – 14.7% per jaar tot R52.7 miljard in 2019 vanaf die R4.8 miljard in 2001, aldus ‘n verslag van die Wes-Kaap se Departement van Landbou.
Landbou word regoor Afrika beskou as ‘n sleutel-element vir ekonomiese heropbou en gevolglike groei en dié nuwe vrye handelsooreenkoms het juis ten doel om tot 90% van die huidige tariefstrukture te laat verval en oorgrenshandel stukrag gegee. Dit sal die nagenoeg 33 miljoen klein boere help om meer volhoubaar te boer en ook betekenisvol tot noodsaaklike werkskepping bydra. Daarmee kan die betrokke ekonomieë letterlik op die been kom en bly.
Handel met en in Afrika sal hoofsaaklik vraag gedrewe wees, veral as gevolg van die opkoms en groei in die sogenaamde middelklas, versnelde verstedeliking en vinnig veranderende verbruiksvoorkeure, sê Laubscher. Hiertoe sal die nuwe vrye handelsoorkeenkoms kan bydra, met invoervervanging as ‘n haalbare strategiese doelwit. Dit is ook ‘n verklaarde voorneme om minder rou produkte uit te voer en meer verwerkte produkte. So ‘n inisiatief sal waardekettings komplementeer deur middel van agri-verwerking.
Die mandjie van invoer na Afrika, op grond van die onderliggende waarde, is graanprodukte (17%), diervette- en groente-olies (10%), suiker, vleis en suiwel (6% onderskeidelik). Die graan invoersyfers wys op die feit dat Afrika nie self voorsienend is wat koring en rys aanbetref nie. Suid-Afrika se uitvoer na Afrika is grootliks drank (15%) in die vorm van water, wyn en bier en verwerkte kos (9%), grane (9%), vrugte en neute (7%). Suid-Afrika is ook ‘n belangrike verskaffer van suiker, suiwel en dierevoeding.
Ongelukkig is enige inisiatief soos hierdie nie sonder ‘n legio struikelblokke nie, soos om handelsbeperkende rompslomp en uitgediende doeaneprosedures reg te ruk nie. Die nuwe ooreenkoms kan die mobiliteit van mense, arbeid, mededinging, beleggings en intellektuele eiendom komplementeer. Dit alles is noodsaaklik indien daar vordering gemaak wil word met die voldoening aan wat die WEF verwag behaal moet word. Ses sulke faktore is uitgelig.
Eerstens is die vrye handelsooreenkoms gemik op die vermindering van armoede op die kontinent. Alhoewel uitkomste sal wissel tussen lande, behoort daar meetbare uitkomste te wees in terme van die diversifikasie van uitvoer, versnelde ekonomiese groei, verhoogde direkte buitelandse belegging en uiteraard verbeterde indiensneming. ‘n Ander faktor is dat vroue bevoordeel behoort te word. Afrika het bewyse van die impak van die bekwaamheid van die vroulike geslag en dit sal beter ontsluit kan word. Van groot belang is die integriteit van handel as ‘n nog ‘n imperatief. Die wyse waarop die inisiatief die impak van Covid-19 kan buffer en die gevolglike intra-kontinentale samewerking, sal ‘n voorbeeld kan word vir die res van die wêreld. Dit bly egter belangrik dat perspektief behou word, want die nuwe ooreenkoms bly ten beste ‘n middel tot ‘n doel.
Die landbou sal spoedig op die hoogte moet kom van wat Afrika wil hê en sy heil soek in die bevrediging van dié vraag, maar sal ook aggressief moet help met verdere ontwikkeling, sluit dr. Laubscher af.
OFM-nuus/Blaine Jones