Central SA
Bejaarde boer van Brandfort rig vertoë om saak terug te trek─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:08 Mon, 08 Dec 2025
Die bejaarde Vrystaatse boer wat van moord aangekla word, kom weer Woensdag (10/12) voor in die landdroshof op Brandfort vir ’n nege jaar oue moordsaak.
Carl Christian Gutter (78) word vervolg nadat hy Sonnyboy Segalo na bewering in Augustus 2016 op sy plaas, Palmietfontein, doodgeskiet het. Gutter het op 2 Oktober vlugtig in die hof verskyn, toe die saak uitgestel is sodat die verdedigingspan verdere vertoë kon rig.
Adv. Allen Simpson, sy regsverteenwoordiger, sê hulle wag steeds op ’n antwoord van die nasionale direkteur van openbare vervolging op hul versoek dat die aanklagte laat vaar word.
Tydens die vorige hofverskyning het die staat gesê die saak sal voortgaan en verskeie redes daarvoor uitgestippel.
“Die voorlegging namens Gutter is oorweeg, maar as onvoldoende bevind om die oorspronklike besluit om te vervolg om te keer. Dis op 6 Mei geneem ná ’n geregtelike doodsondersoek,” sê lt.kol. Zweli Mohobeleli, Valkewoordvoerder.

Carl Christian Gutter (78) van Brandfort verskyn weer Vrydag in die plaaslike landdroshof. Foto: Charne van der Merwe
Die bevindinge daarvan is noukeurig hersien saam met die beskikbare bewyse en die breër omstandighede, wat eindelik tot die gevolgtrekking gelei het dat vervolging moet voortgaan. Simpson het egter daarna weer ’n vertoe gerig.
Gutter is borgtog van R2 000 toegestaan nadat hy op 21 Mei in hegtenis geneem is en vlugtig in die hof verskyn het. Agt dae later het hy weer voorgekom, toe die verdediging ’n uitstel versoek het om bykomende vertoë in te dien.
Volgens polisieverslae is beamptes op 29 Augustus 2016 na Gutter se plaas ontbied ná bewerings van ’n gepoogde plaasaanval. Met hul aankoms het hulle vier verdagtes aangetref wat deur plaaslike boere en plaaswerkers aangehou is.
LEES OOK: Bejaarde Brandfort-boer weer in hof op moordklag
Onder hulle was Segalo, wat met sy gesig na onder gekry is met ’n skietwond in sy rug, het Mohobeleli vroeër gesê. Beslag is op die toneel op twee vuurwapens gelê wat weggestuur is vir ballistiese ontleding.
Segalo en sy vermeende medepligtiges is aanvanklik aangekla van poging tot roof, maar die drie ander is later vrygespreek. Segalo het later aan sy beserings beswyk.
Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
