On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Anny
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

‘Uitdagende, maar lonende jaar’ sê Vrystaat-premier

───   11:01 Tue, 30 Dec 2025

‘Uitdagende, maar lonende jaar’ sê Vrystaat-premier | News Article
Die Vrystaatse premier, MaQueen Letsoha-Mathae. Foto: Facebook

Die Vrystaatse premier, MaQueen Letsoha-Mathae, sê 2025 “was ’n uitdagende, maar lonende jaar”.

“Die Vrystaatse regering het ’n aggressiewe diensleweringsprogram begin waar ons huise en erwe aan duisende mense gelewer het. Ons leerders het beurse ontvang om hul naskoolse opleiding voort te sit en ons matrikulante het weereens bewys dat ons eenvoudig die beste is deur weer nommer een in die land te wees.” 

Sy sê die provinsie se uitdagings was geslagsgebaseerde geweld en om polisiesigbaarheid te verhoog. “Ons het aan ons mense gehoor gegee en begin om ons padnetwerkinfrastruktuur te verbeter.”

Adj.pres. Paul Mashatile tydens ’n toer van die Virginia Helium-gasaanleg in Welkom, as deel van die Skoon Stede en Dorpe- geïntegreerde diensleweringsprogram. Foto: Facebook

Sy sê sy is veral trots daarop dat die gewilde Mangaung Afrika-kultuurfees ná twee jaar weer aangebied kon word. 

“Ons provinsie het bewys dat ons, benewens die onmiskenbare passie wat ons mense vir sport het, ook die vermoë het om sulke groot geleenthede aan te bied.

Die Vrystaatse LUR vir openbare werke en infrastruktuur, Dibolelo Mance, besoek die konstruksieterrein van die nuwe Dome-gekombineerde skool. Foto: Facebook

“Ons het vanjaar skole en fasiliteite vir gesondheidsorg gebou en geopen, en hard gewerk met die min hulpbronne tot ons beskikking. Dit was nie maklik nie, maar ons het saamgewerk en volhard.”

Letsoha-Mathae  sê die provinsiale regering moes ’n “magdom sosiale euwels” aanspreek: “Dwelm- en alkoholmisbruik, geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord en die algemene morele verval in ons samelewing. 

Die Vrystaatse premier, MaQueen Letsoha-Mathae en die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, tydens die amptelike opening van die Sonskyn-polisiestasie in Bloemfontein. Foto: Facebook

“Gevalle van uiterste geweld waar weerlose kinders en kwesbare vroue vermoor is. Ons het dit onder moeilike omstandighede gedoen, maar ons het volhard.”

“Werkloosheid is ’n knaende, konstante herinnering dat ons nog baie het om te doen. Die onlangse kwartaallikse syfers plaas ons provinsie derde in die land rakende die aantal werksgeleenthede wat geskep is. 

“Dit is bemoedigend. Ons is gemotiveerd om hard te werk om werkloosheidsyfers drasties te verminder.”

Tydens die amptelike opening van die nuwe Qibeng-biblioteek in Wepener ter ere van Mandela-dag. Foto: Facebook

“Baie werk wag op ons in die nuwe jaar, maar in samewerking met die uitvoerende raad is ek oortuig ons sal voortgaan om vir ons mense van diens te wees.” 

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.