Entertainment
Philipstown – van nederige Karoodorpie tot Emmy-wêreldroem─── SUSAN MARÉ 14:47 Thu, 26 Nov 2026
Philipstown is dalk ’n spikkel op die landkaart, maar sy draadkarstorie is reusagtig.
Die dorpsmense herstel nog van die groot nuus (of skok) dat die dorp ’n gesogte Emmy-toekenning gewen het. Dié dorp het Maandag (23/11) die wêreldverhoog betree toe ’n sportdokumentêr oor The Philipstown WireCar Grand Prix met ’n Emmy bekroon is.
Sedertdien is die mense van Philipstown in die wolke en die draadkarre sommer in ’n hoër rat. Met dié toekenning het die dorp se draadkarjaers stof in die oë geskop van lande soos Brasilië, Spanje en die Verenigde Koninkryk.
Dít alles danksy Accenture Song Suid-Afrika wat die potensiaal van die Philipstown WireCar Grand Prix in 2025 raakgesien en ’n dokumentêr geskep het. Die film is deur Giant Films vervaardig. Accenture Song Suid-Afrika is die eerste Suid-Afrikaanse reklameagentskap wat ’n Emmy wen.
‘Mense moet sien wat in hierdie klein Suid-Afrikaanse dorpie gebeur’
Dit is ook ’n eerste keer dat Suid-Afrika in die sportdokumentêr-kategorie wen. Die vorige Suid-Afrikaanse Emmy-toekenning was vir die dokumentêr Miners Shot Down in 2015 oor die Marikana platinum-mynstaking.
Tseliso Rangaka, hoof- kreatiewe beampte van Accenture Song Suid-Afrika, het in die media gesê: “Hierdie een behoort aan Philipstown. Die kinders, hul verbeelding en die pure vreugde van hierdie resies was die hart van die storie.
“Ons wou hê meer mense moet sien wat in hierdie klein Suid-Afrikaanse dorpie gebeur. Om te sien hoe dit die hele pad tot by ’n internasionale Emmy vorder, is iets wat geeneen van ons ooit sal vergeet nie.”

Foto: Facebook
Die dokumentêr van 75 minute wat deur die Suid-Afrikaanse rolprentmaker Paul Ward geregisseer is, volg agt jong renjaers. Die renjaers bou hul handgemaakte motors uit draad en herwonne of interessante materiaal voordat hulle daarmee op ’n uitmergelende, klipperige baan wat oor 3 kilometer strek, resies jaag.
Stoftrappend deur Philipstown se strate met kletterende karretjies oor renbane van growwe oppervlakke, los klippertjies en sinkplaathobbels beur deelnemers verbete vorentoe na die wenlint.
Ander kunstenaars wat by die projek betrokke was, is Dima Lochmann van Accenture Song Duitsland met gestileerde rekenaargegenereerde (CGI) tonele, en direkteure Cameron Watson en Devin Kennedy.

Só bou mens ’n wen-resieskar. Foto verskaf
OFM Nuus het in 2025 oor Philipstown se eerste Grand Prix vir draadkarre berig en met rolspelers soos Kay Fourie, Alistair King en Petrus van der Walt gesels.
Alistair King van die Philipstown WireCar Foundation (PWCF) het toe gesê die tradisie het sowat 14 jaar tevore begin. Dit het die simbool geword van ’n dorp wat op kreatiewe maniere saamspan om hoop vir kinders te skep.
“Die PWCF is gemik op gemeenskapsopheffing en die dryfkrag agter die dorp se eie ‘Formule 1-wedren’, of anders gestel, die Philipstown WireCar Grand Prix. Dit was ’n eerste vir Suid-Afrika.”
Motivering, geleenthede en drome
As ’n maatskappy sonder winsoogmerk het die PWCF ’n gebou op Philipstown begin restoureer en as ’n digitale leersentrum ingerig. Fourie, medestigter van die oorpronklike resies en die PWCF se voorsitter, sê die projek is daarop gemik om die kinders van Philipstown op te hef met nuwe motivering, geleenthede en drome.
Die restourasie aan die gebou is voltooi en is nou ’n heenkome as ’n E-leersentrum waar vaardighede aangeleer kan word. Daar is ruimte waar dansers hulself kan uitleef en ’n fabriek vir jong, kreatiewe draadkarbouers. Inkomste uit draadkarverkope is tot voordeel van hierdie projek wat eindelik teruggeploeg word in die gemeenskap.
In samewerking van Accenture Song Suid-Afrika is die dokumentêr beskikbaar gestel op Amazon Prime en DStv. ’n Mobiele videospeletjie, WGP Mobile Gamet, se inkomste gaan direk na die stigting se jeugprogramme op Philipstown.
Vir die kreatiewe direkteure Cameron Watson en Devin Kennedy van Accent Song SA is die Emmy ’n merkwaardige hoogtepunt. “Dit is ’n projek wat met eenvoudige ambisie begin het - naamlik om Philipstown se storie vir die wêreld te vertel.
“Elke toekenning en elke nuwe gehoor het meer mense aan hierdie kinders, hierdie resies en hierdie dorp bekendgestel. ’n Emmy voer dit na ’n heeltemal ander vlak.
“Daar is iets so spesiaal daaraan om te sien hoe ’n resies wat rondom draad, afvalmateriaal, verbeelding en vasbeslotenheid gebou is, saam met die allerbeste televisie van regoor die wêreld erken word Philipstown is dalk net ’n klein kolletjie op die kaart, maar sy storie is reusagtig.”
OFM Nuus/Susan Maré cvdw
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

