Agriculture
‘Sprinkaanuitbraak in hierdie stadium redelik onder beheer’─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Wed, 06 Apr 2022

Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, gee Woensdagoggend 'n oorsig oor die sprinkaan-uitbraak in die provinsie.
Sien onderstaande PODCAST
Jansen sê in hierdie stadium is daar steeds sprinkane wat in die provinsie voorkom, maar die tempo en konsentrasie van hierdie swerms het heelwat afgeneem, danksy die lugondersteuning, wat ‘n helikopter insluit, wat moontlik gemaak is deur 'n publiek-private vennootskap.
Sprinkaanswerms kom steeds voor in die Carnarvon-, Prieska-, Vosburg-, Vanwyksvlei- en Kenhart-omgewing, terwyl vlieërs verlede week in die Victoria-Wes en Britstown-omgewing bestry is.
LEES OOK: Onvoldoende gif vir sprinkaanbestryding ‘n uitdaging in Noord-Kaap
“Dit is egter so dat die tyd nou min is – daar is min of meer sowat drie weke oor na die intreedatum van ryp en dan sal die sprinkane ‘n natuurlike dood sterf aan die einde van ‘n somersiklus en ‘n somer-reënseisoen.
“Maar tot dan sal voortgesette bestryding van hierdie plaag moet geskied, maar in hierdie stadium [is daar] ‘n daadwerklike verbetering ten opsigte van die hoeveelheid swerms wat aangemeld word,” deel Jansen.
OFM-nuus het voorheen berig dat een van die uitdagings wat die Departement van Landbou in die gesig gestaar het, ‘n tekort aan gif was om sprinkane effektief te kan bestry.
LEES OOK: Springbok-inwoners praat oor hordes sprinkane wat deur dorp beweeg het
Jansen het gedeel dat die departement 600 000 liter van hierdie gif gedurende hierdie seisoen nodig gehad het.
Hy versoek intussen motoriste om versigtig te bestuur wanneer hulle hierdie swerms sprinkane op die teerpad sien. Voertuie se padhouvermoë word benadeel, dus moet motoriste stadiger ry.
Hy vra dat sprinkaanswerms by die Departement van Landbou of betrokke landbou-organisasie aangemeld moet word.
Sprinkaanswerms kan ook by die volgende nommers aangemeld word: De Aar-depot - 053 631 3621 of Upington-depot - 082 457 2906.