Agriculture
Produsente se uitdagings met vergoedingsfonds, beroepsbeserings en -siektes─── ELSABÉ RICHARD 08:18 Thu, 23 Mar 2023

Die stigter van Work Accident Support, Stephan Pietersen, het die afgelope tyd verskeie landbou-organisasies in Sentraal-Suid-Afrika besoek.
Produsente het verskeie uitdagings gedeel met betrekking tot die Wet op Beroepsbeserings en -Siektes en die inhandiging van loonopgawes by die Vergoedingsfonds.
Hy het die uitdagings met OFM-nuus gedeel.
Sien onderstaande PODCAST
Wat was van die algemene uitdagings met betrekking tot die Wet op Beroepsbeserings en -Siektes wat produsente tydens jou besoeke geopper het?
"Baie van die produsente boer al vir lank en op 'n stadium het hulle net met vee geboer, maar nou besef hulle nie regtig dat daar verskillende subklasse is in landbou nie. So, ek probeer verduidelik as sy boerdery verander het deur die jare moet hy altyd seker maak dat alles nog korrek is [en dat hy onder die regte subklas geregistreer is] ... want sekere goed in die boerdery kon verander het en die boerdery kan nou 'n gemengde boerdery wees waar hy ook nou miskien goed begin aanplant het ... "
LEES OOK: Nie-nakoming van Vergoedingsfondsregulasies kan tot boetes lei
Volgens Pietersen het die Vergoedingskommissaris verlede jaar in die Parlement erken dat Suid-Afrikaanse besighede, insluitend boerderye, baie uitdagings ervaar wat onder meer die gebrek aan standaard-prosedures en -nakoming behels.
Wat was dan van die uitdagings met betrekking tot die inhandiging van die loonopgawes?
"In 2012 het die Vergoedingsfonds oorgegaan na 'n gerekenariseerde stelsel waar besighede hul loonopgawes aanlyn moet inhandig, maar daar is ongelukkig nog produsente wat nie eintlik kennis dra nie.
"So, in die verlede het dit altyd gebeur dat die fonds 'n vorm sou gestuur het aan besighede. Die besigheid of die boerdery moet die vorm voltooi, dit terugpos aan die vergoedingsfonds en die fonds doen 'n berekening wat dan teruggepos word na die produsent."
LEES OOK: Die vier sub-klasse van landbou en hul tariewe
Pietersen verduidelik dat hierdie prosedure nie meer bestaan nie en dus vind baie produsente dit uitdagend om lone in te handig. Hy sê die voordeel van die nuwe stelsel is dat die rekening wat betaalbaar is aan die fonds onmiddellik beskikbaar is ná die produsent alle nodige inligting aanlyn ingedien het.
"Daar is baie familieboerderye in die landboubedryf en soms, as die seun die boerdery oorneem, dan dink ek nie altyd hulle weet presies wat die proses is wat [gevolg moet word nie].
LEES OOK: Registrasie van verskillende entiteite by die Vergoedingsfonds
Moet die besigheid die boerdery se naam miskien net verander na die seun se naam toe? Of moet die seun heeltemal 'n nuwe entiteit gaan registreer by die Vergoedingsfonds? Wat dan van die pa se boerdery, wat moet met [dit] gebeur? Hierdie is alles geldige vrae waaroor produsente wonder, sê Pietersen.
Enigiets nuut wat jy onder produsente se aandag wil bring?
"Die belangrikste nou is dat [produsente] moet ag slaan op die sperdatum [om lone te verklaar].
"Die stelsel gaan oop vanaf 1 April waar hulle die lone moet verklaar en dan het hulle kans tot 31 Mei om dit te verklaar en enige boetes te voorkom. Maar hulle moet nou nie wag tot 31 Mei [want] dan gaan die stelsel onder geweldige druk wees ..."
Indien produsente nie die volle bedrag wat aan die Vergoedingsfonds verskuldig is, betaal nie, kan aansoek gedoen word om dit af te betaal. "Dit kan 'n positiewe invloed op hulle kontantvloei hê, waar hulle kan vra om dit af te betaal oor ['n sekere hoeveelheid maande]."