Agriculture
Vergoedingsfonds: Wanneer plaaswerkers aan diens sterf─── ELSABÉ RICHARD 15:30 Tue, 29 Aug 2023

Wat is die stappe wat jy moet doen wanneer ‘n plaaswerker aan diens sou sterf?
Wel, om hierdie vraag te beantwoord het OFM Nuus se Elsabé Richard-May met Stephan Pietersen van Work Accident Support gesels.
- Wat is die eerste stap wat 'n produsent moet volg as een van sy werkers aan diens sou sterf?
Eerstens moet dit gerapporteer word aan die Departement van Arbeid se
Vergoedingsfonds deur die normale vorms te voltooi, maar ook baie belandrik, die
sterftesertifikaat en die vorm vir die kennisgewing van sterfte moet ingehandig word.
Sterfgevalle moet ook by die provinsiale inspekteur van die departement aangemeld word waar hulle ondersoek moet instel na die dood van die werker. Die polisie moet natuurlik ook in kennis gestel word.
- Wat gebeur verder nadat die voorval gerapporteer is en wat is die produsent se verantwoordelikheid?
Daar is baie produsente wat die betrokke plaaswerker se familie help deur die begrafnis onkoste te betaal. Ek sal voorstel dat die begrafnisondernemer direk betaal moet word sodat die produsent 'n bewys van betaling asook 'n volledige faktuur bekom.
Die faktuur moet uiteensit presies vir watter items betaal is.
In terme van die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes is die
begrafnisonkoste een van die voordele wat betaalbaar is aan die boer deur die Vergoedingsfonds.
Boere kan dan aansoek doen by die Fonds vir die terugbetaling van die begrafnisonkoste.
- Wat is die maksimum bedrag betaalbaar?
Tans is die maksimum bedrag betaalbaar R19 620 vir 'n begrafnis en dit word jaarliks hersien.
- Watter dokumentasie moet 'n produsent voorsien om hierdie geld terug te eis?
Nadat die voorval gerapporteer is, moet die produsent die bewys van die betaling aan die departement voorsien - ’n faktuur wat uiteensit vir watter items die produsent betaal het.
- In jou ondervinding, wat dink jy is die grootste fout wat produsente maak wanneer 'n werker aan diens sterf?
Daar is baie produsente wat families van die oorledene sover as moontlik finansieel wil probeer help, en dikwels sal hulle die geld direk aan die familie gee eerder as om die begrafnisondernemer direk te betaal. En mits dit sou gebeur, sal die produsent nie die gelde kan terugeis vanaf die Vergoedingsfonds nie.
Alhoewel dit nie die plig is van die produsent om 'n sterfte-eis namens die familie in te sit nie, moet hulle slegs probeer help dat die familie die regte vorms moet voltooi in hierdie verband.
Die produsent sal ook soms nie noodwendig weet wat is die regte vorms nie. Hier moet hulle kyk op die departement se webtuiste om te sien wat verlang word.
- Enige laaste woorde?
Alle produsente wat ten minste een of meer werkers in diens neem, moet
registreer met die Vergoedingsfonds om hulle werkers te dek teen werksbeserings, maar ook as 'n werker sou sterf.
Sodoende sal 'n produsent ook nie gedagvaar kan word deur 'n familielid van 'n oorledene aangesien die risiko deur die Vergoedingsfonds gedra word.