Offbeat
Weird Wide Web – Skuimbaddens ontmoet KI in Japan se nuwe uitvinding─── 15:13 Thu, 11 Dec 2025
Een van die ongewoonste en mees besproke aantreklikhede by vanjaar se Osaka Expo was die sogenaamde ‘toekomstige menslike wasmasjien’, amptelik die Mirai Ningen Sentakuki genoem.
Dis basies ’n wasmasjien vir mense! Die masjien gebruik ultrafyn borrels om ’n mens binne 15 minute skoon te was.
Boonop gebruik dit kunsmatige intelligensie en sensors om presies die regte watertemperatuur vir elke gebruiker te kies, speel dit ontspannende musiek en vertoon dit rustige video’s terwyl jy gewas word.
Aanvanklik is die masjien net vir demonstrasie bedoel – ’n soort kyk-in-die-toekoms-uitstalling. Maar nou kan jy dalk self een hê!
Die Japannese elektronikareus Yamada Holdings het aangekondig dat hulle vanaf 25 Desember ’n model van die menslike wasmasjien gaan uitstal by hul Ikebukuro-winkel in Tokio.
Science Co., die maatskappy wat die masjien ontwerp het, sê die belangstelling sedert die Expo is oorweldigend. Mense van regoor die wêreld het gevra of hulle een kan koop, en meer as 40 000 mense het tydens die Expo gevra om die masjien self te probeer.
Volgens Jiji Press is dit nog nie duidelik wanneer die masjien amptelik te koop sal wees nie, maar die verwagte prys is om en by 60 miljoen jen – sowat $385 000.
Die goeie nuus? As dit eenmaal in die winkel staan, sal mense dit waarskynlik gratis kan uitprobeer.
Science Co. sê ook hulle hoop om van die masjiene in hotelle in Japan te plaas, insluitend een in Osaka.
Lees meer mvh
