South Africa
Talle sterf in koeëlreën by Pretoriase kuierplek─── 10:53 Sun, 07 Dec 2025
Die polisie soek na drie verdagtes wat 12 mense, insluitend drie kinders, by ’n kuierplek by die Saulsville-hostel in Atteridgeville, Pretoria, doodgeskiet het.
Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, sê die verdagtes het Saterdag (6/12) in die vroeë oggendure by die kuierplek aangekom en lukraak begin skiet. Sowat 25 mense is geskiet waarvan tien op die toneel dood is en twee later in die hospitaal. Sy sê drie kinders jonger as 16 jaar is onder die oorledenes.
Die voorval het om 04:15 plaasgevind, maar die polisie is eers om 06:00 in kennis gestel.
Sjebiens
Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, het die moorde veroordeel en dit as hartverskeurend en onaanvaarbaar beskryf.
“Ons is ontsteld oor die verlies van onskuldige lewens, insluitend jong kinders, in hierdie sinnelose daad van geweld. Ons harte gaan uit na die families wat vandag treur. Die Gautengse regering sal nie toelaat dat ons gemeenskappe in vrees leef nie.”
Hy het sy kommer uitgespreek oor onwettige drankwinkels en opgemerk hulle lok dikwels misdadige aktiwiteite. “Onwettige sjebiens moet nie veilige hawens vir misdadigers wees nie.” Die Valke ondersoek die saak.
Duisende onwettige drinkplekke gesluit
“Ons het ’n ernstige uitdaging op hande met onwettige en ongelisensieerde drankpersele. Tussen April en September vanjaar het ons 11 975 ongelisensieerde drankpersele landwyd gesluit en meer as 18 676 individue in hegtenis geneem wat onwettig drank verkoop het,” sê Mathe.
ActionSA, as lid van die Gauteng-wetgewer, het ook die massaskietery in Saulsville ten sterkste veroordeel. John Moodey van ActionSA beskryf dit as ‘n “slagting”.
Gauteng beleef georganiseerde misdaad en onskuldige gemeenskappe betaal die prys vir die staat se versuim om orde te handhaaf, sê hy.
OFM Nuus dg

