On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

‘Regering se sondebelasting ondermyn Noord-Kaapse wynboere’

───   08:00 Mon, 12 Feb 2024

‘Regering se sondebelasting ondermyn Noord-Kaapse wynboere’ | News Article
Foto: Facebook/Oranjerivier-kelders

“As die regering net ’n kwart van die belasting aan produsente kan terugploeg, kan die wynbedryf weer winsgewend wees.”

Die wynbedryf langs die Benede-Oranjerivier, wat geruime tyd noustrop trek weens die Covid-drankverbod en kleiner oeste, kan ’n hupstoot kry as die regering ’n deel van sy aksynsbelasting aan produsente terugploeg.

’n Groot deel van die wynbedryf se winsdaling kan toegeskryf word aan die regering se “sondebelasting”, meen Wilco Fourie, voorsitter van die Oranjerivier-landbou-unie. “Die regering maak ’n groot klomp geld uit elke hektaar wyndruiwe, terwyl die produsent teen ’n verlies boer. As die regering net ’n kwart van die belasting aan die produsent kan terugploeg, kan die wynbedryf weer winsgewend wees.”

Hy reken die wynbedryf het nog nie herstel van die verbod op drankverkope wat in 2020 tydens die Covid-epidemie ingestel is nie. “Suid-Afrika was die enigste land in die wêreld wat twee keer drankinperkings gehad het. Dit het die wynbedryf geweldig seergemaak en produsente het baie geld verloor.

“Daarby het ons wyndruifboere met die hoë reënval in 2021 en 2022 nie goeie oeste gehad nie. Weens donsskimmel op 2022 se druiwe was daar ook nie ’n goeie oes in 2023 nie. Dit beteken vir vier jaar in ’n ry het die wynbedryf se wins, wat reeds op die been gesny was, nog verder gedaal.”

Dit het daartoe gelei dat ’n klomp boere hul wingerde uitgehaal het. “Omdat die bedryf nog nie ’n positiewe kurwe het nie, plant niemand wyndruiwe aan nie en neem produksie nog verder af.”

Hy sê hulle het verlede jaar maar 28 000 ton wyndruiwe geproduseer. Die kelders is nie ontwerp vir so min druiwe nie; daarom “moes daar geherstruktureer word en oorhoofse koste gesny word om darem ’n mate van wins te kon behaal”.

Die mikpunt is om vanjaar 30 000 ton wyndruiwe te produseer wat R2 500/t kan haal. “Maar hou in gedagte dat R2 500/t is wat ons al in 2019 moes gekry het, of baie na daaraan. Dit beteken maar net dit is ’n bedryf wat op hierdie stadium sukkel om op te staan, veral hier by ons in die Noord-Kaap.”

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen cg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.