Agriculture
Toekoms lyk duister vir reptiele weens smokkelhandel─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 08 Dec 2025
Die onwettige handel in reptiele het die afgelope dekade ’n stille maar snelgroeiende bedreiging vir Suid-Afrika se biodiversiteit geword.
Wildmisdaad waarby renosters en olifante betrokke is, kry die meeste aandag, maar die kleiner, minder sigbare spesies soos slange, skilpaaie, akkedisse en miervreters word in groot getalle gestroop. Die akkedisse, of te wel skurwejantjies, wat verwant is aan die Vrystaatse ouvolk of groot klipsalmander, is gewild onder wildsmokkelaars, vertel Johan Marais, hoof van die Afrika-slangbytinstituut in Pretoria.
In Europa behaal hulle sowat R160 000 stuks.
Onlangs is honderd in ’n verlate huis in Namakwaland gevind, wat deel was van ’n smokkelnetwerk. Die vonds is versorg op die navorsingsplaas Kokerboom naby Springbok, data is ingesamel, mikroskyfies ingeplant en hulle word deeglik dopgehou om te sien of die diertjies oorleef.
Ouvolk hou in gate, maar gordelakkedisse kom voor in rotsskeure en op klipkoppies, veral in Namakwaland, vertel Marais. “Al manier om die akkedissies te vang, is om die rotsskeure met ’n koevoet oop te breek; so word die natuurlike habitat van die diertjies dan vernietig.”
Hulle vreet graag termiete en woon in familie-eenhede van tot 30 lede.
Lewe gewy aan reptiele
“My lewe word gewy aan die bewaring van reptiele,” vertel Marais.
“Ek voed graag mense op oor reptiele, veral slange. Dit is skrikwekkend om te sien dat ons natuurerfenis so vernietig en gestroop word.”
Die Afrika-slangbytinstituut bied ’n beloning uit vir inligting oor dieresmokkelary. Regslui word spesifiek opgelei om dié soort smokkelhandel en dié in vetplante te bestry deur doeltreffende regsaksies.

Gordelakkedisse is ’n hoogs bedreigde spesie in Suid-Afrika. Foto: Johan Marais
Die meeste stropery vind plaas wanneer dit volmaan is. Ten spyte van wetgewing soos die Nasionale Omgewingsbestuurswet en internasionale Cites-ooreenkomste bly reptielsmokkelary ’n moeilike misdaad om te bekamp.
Reptiele is klein en kan malik weggesteek word, misdagers gaan ongesiens te werk, die publiek is onbewus van die beskerming van die spesies en handelaars tree op onder die dekmantel van troeteldierliefhebbers of -telers. Om hierdie bedreiging te stuit, verg nie net wetstoepassing nie, maar ook volgehoue openbare bewusmaking en samewerking, ook buitelands.
Kenners meen die stryd is groot, maar die koste van niksdoen is groter!
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

